Mari Blumenthal
Rapport, Netwerk 24
Press Releases
Nov 30, 2015

5 vrae aan Sygnia se Magda Wierzycka

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van Sygnia, is in wese ’n markontwrigter. Mari Blumenthal het haar uitgevra oor hoe dié groep die beleggingsbedryf op sy kop probeer keer.

1. Sygnia as ’n markontwrigter. Hoe kry julle dit reg?

Toe ons die kleinhandelmark vir beleggings wou betree, het ons regtig gaan kyk hoe ons dit kan ontwrig om mededingend te wees.

Daar was geen makliker manier as deur koste nie. So ons het ’n laekoste-spaarproduk begin waarin ons aftree-annuïteite gekoppel is aan beursverhandelde fondse waar bykans alle koste geskrap is – ons Skeleton-fondse. Ons het al ons kleinhandelprodukte geloods met ’n totale koste van net 0,4%. Dit het nogal groot probleme veroorsaak vir ander maatskappye.

2. Gee beleggers nou meer aandag aan koste as voorheen?

Die gemiddelde kleinhandelbelegger betaal sowat 4% aan gelde voor hul belegging eers uit die wegspringblokke is.

Dit is baie moeilik vir die gemiddelde belegger om koste tussen finansiëlediensteverskaffers te vergelyk. Ek het na drie brosjures gekyk en ná ’n uur was ek nog nie seker hoe die koste verskil nie – en ek het ’n graad in wiskunde.

3. Glo jy dat pensioenfondse ook al hoe meer beursverhandelde fondse gaan gebruik?

Die tesourie is vasberade om koste te verlaag en maak al vir ’n geruime tyd geraas oor beursverhandelde fondse. Hulle is egter meestal geïgnoreer, want waarom sal maatskappye laekosteprodukte bemark as hulle goed kan verkoop teen vyf keer die prys?

In Julie vanjaar het die tesourie egter voorgestelde regulasies uitgereik oor hoe pensioenfondse moet lyk en onverwags daarby ingesluit dat alle aftreefondse ’n opsie moet bied met lae koste en dat beursverhandelde fondse hiervoor oorweeg moet word. Dit het omtrent ’n kat in die duiwehok gegooi.

4. Beleggingbestuurders sê gereeld hulle vaar beter as beursverhandelde fondse wanneer markte begin terugsak. Wat is jou antwoord daarop?

Tydens ’n bulmark is daar 30% van aktiewe fondsbestuurders wat beter presteer as die mark, maar tydens ’n beermark word jou kanse om beter as die mark te presteer, 50/50.

Die probleem is dit is nie elke keer dieselfde 50 wat beter as die mark vaar nie – fondsbestuurders presteer nie deurgaans beter as die mark nie.

Om risiko te diversifiseer, gaan belê mense dan by drie verskillende beleggingsbestuurders. Die kanse dat jy drie van die regte ouens sal kry wat beter as die mark vaar, is nul. Al wat aktiewe bestuurders kan doen, is om beleggers te probeer bang praat.

5. Het jul notering op die JSE ’n positiewe uitwerking op jul sake gehad?

Die ware rede vir die notering was om Sygnia se handelsnaam te verbeter. Ons is nie regtig bekend in die kleinhandelmark nie. Notering het ons ’n platform gegee, want skielik weet baie meer mense van Sygnia.

Daar was met die notering 3 400 individuele rekeninge op ons beleggingsplatform. Ons het ná die notering goeie groei in dié syfers begin sien.

’n Derde van hulle is mense wat nie finansiële raadgewers het nie. Dus het mense wat die belangrikheid besef van koste ten opsigte van wat hulle uit hul spaargeld kry, na ons begin kom.